Brande en nogmaals brande oral in die Vrystaat is besig om die provinsie in ‘n swart landskap te omskep. Dit is volgens boere een van die ergste brandseisoene nog wat steeds groot skade aan weiveld, infrastruktuur, vee en wild aanrig, berig Netwerk 24. Voor die jongste brande van die naweek is reeds 250 000 hektaar afgebrand, het Savage Breytenbach van die Vrystaat sambreel-brandbeskermingsvereniging gesê. Sedertdien was daar groot brande by Grootvlei suid van Bloemfontein, tussen Senekal en Steynsrus, Vredefort, Golden Gate en Excelsior. Van die brande het langer as ‘n dag gewoed en nog duisende hektaar is afgebrand. In Senekal het ‘n brand in die middel van die nag op ‘n plaas ontstaan en is eers Sondag onder beheer gekry. Riaan Schutte van Vrystaat Landbou in Senekal het gesê dit wil voorkom of plaaswerkers wat gekuier het die brand veroorsaak het. Hy het gesê 2000 hektaar het afgebrand. Sowat 20 000 hektaar het in die Steynsrus-distrik afgebrand, terwyl ‘n nuwe brand gister daar ontstaan het.