Ná 35 jaar en byna 14 000 uitvoerings, het die gordyn Sondag vir die laaste keer op New York se Broadway, vir Andrew Lloyd Webber se immergewilde Phantom of the Opera, gesak.
Phantom het in 2006 reeds geskiedenis gemaak as die Broadway-vertoning wat die langste hier op die planke was.
Netwerk24 berig hierdie skouspelagtige produksie is deur meer as 20 miljoen teatergangers gesien.
Kaartjies ter waarde van 1,4-miljard Amerikaanse dollar is tot nou toe verkoop.
Die vervaardigers het besluit om Phantom tot ‘n einde te laat kom, aangesien dit nie meer finansiële sin maak nie.
Die slag is gedien toe Broadway weens die Covid-19-pandemie vir 18 maande gesluit was.
Die produksiespan skat dat hulle deur die jare nagenoeg 6 500 mense in diens gehad het.
Die kaartjies vir die laaste vertoning het vir tot meer as 500 Amerikaanse dollar elk verkoop.