Die DA doen ‘n beroep op die regering om ‘n herstelfonds vir die pluimveebedryf te stig. Dit is om die boere te ondersteun wat deur die voëlgriep-uitbreking geraak is en gedwing is om hul pluimvee van kant te maak. Volgens die DA het die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging verklaar dat dit boere minstens ‘n jaar sal neem om van die impak van die uitbreking te herstel. Die party het gesê dit sal bydra tot die lewenskostekrisis in die land aangesien eierpryse die hoogte ingeskiet het. Die DA se Noko Masipa het gesê dit het ‘n direkte impak op huishoudings wat op hoenderprodukte as hul hoofbron van proteïen staatmaak. INTUSSEN is verskeie kruidenierswinkels in Bloemfontein ook nou sonder eiervoorrade op hulle rakke.
