Die DA gee president Cyril Ramaphosa die skuld nadat twee lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, of SANDF, Woensdag dood is. Die troepe is in Desember na die Demokratiese Republiek van die Kongo ontplooi as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-sending om die M23-rebelle te bestry.
Die rebelle-groep word voorsien van hoogs tegnologiese weermag-toerusting. ’n Mortierbom het glo binne een van die Suid-Afrikaanse militêre kampe beland en twee gedood en drie beseer. Die DA se Kobus Marais het gesê die bloed van die gevalle soldate val vierkantig in die president se hande. Die DA, EFF en VF Plus het aangedring dat die troepe aan die DRK onttrek word.
Ramaphosa het Donderdag voor die Kaapstadse Persklub volgehou dat die weermag die nodige toerusting het om militêre operasies in die Kongo uit te voer. Marais het bygevoeg die DA het Ramaphosa gewaarsku oor die weermag se onvoldoende kapasiteit, sendingtoerusting en lug-ondersteuning om die M23-rebelle doeltreffend te beveg.