Onvoldoende sekuriteit by gesondheidsorg-geriewe van die staat, veral openbare hospitale blyk ‘n kopseer te wees, het die DA se LUR vir gesondheid in die Vrystaat, Mariette Pittaway, gesê. Pittaway het in ‘n verklaring verwys na die algehele verval van die Nasionale hospitaal in Bloemfontein en die onwettige besetting van mense wat in verskeie van die asbeshuise op die perseel van die hospitaal woon. Die onwettige inwoners het dag en nag toegang tot al die geboue van die hospitaal en is ‘n groot veiligheidsrisiko vir gesondheidspersoneel, pasiënte, en besoekers. Sy het gesê staatshospitale moet een van die prioriteite van die regering wees om die veiligheid van dokters en verpleegpersoneel wat daar werk, te beskerm. Pittaway het verwys na twee gevalle in 2010 en 2019 toe vroulike dokters aangeval en verkrag is by die Pelonomi hospitaal. Daar is onlangs twee motors in die parkeerarea by die hospitaal gesteel, het sy gesê. Pittaway het ‘n dringende beroep op die regering gedoen om die veiligheid van staatshospitale op te skerp.
