Die DA sê hulle verwerp enige intimidasie of dreigemente teen die media om ‘n vrye pers onafhanklik te beoefen. Dit volg op onlangse bewerings dat die SAUK se hoof van nuus, Moshoeshoe Monare, deur die Staatsveiligheidsagentskap geïntimideer word. Die agentskap het Monare glo gekontak en ‘n poligraaftoets geëis as deel van ‘n keuringsproses.
Ramaphosa het Sondag tydens ‘n saamtrek in Botshabelo gesê hy wil gebalanseerde beriggewing hê tot aanloop van die verkiesing. Die DA se Natasha Mazzone sê dit blyk die ANC is besig om die intelligensie-agentskap vir politieke motiewe te gebruik. Mazzone sê dit is ook kommerwekkend in die lig van president Cyril Ramaphosa se uitgelekte oudio-belofte om die ANC se negatiewe publisiteit uit te daag en heftig teen te staan.