Die DA het reeds hofstukke ingedien teen die aanstelling van John Hlope as lid van die Regterlike Dienskommissie. Doktor Hlope, voormalige regterpresident van die Wes-Kaap, en MK-leier in die parlement, is vroeër deur die einste kommissie aan wangedrag skuldig bevind, en is later as regter onthef.
Sy RDK-benoeming is ondanks heftige teenkanting deur die Nasionale Vergadering aanvaar. Die DA vra nou ‘n interdik van die Kaapstadse hooggeregshof aan wat Hlope verbied om in die RDK te dien. Hlope is destyds daarvan beskuldig dat hy die Grondwethof-regters Chris Jafta en Bess Nkabinde, na bewering wou beïnvloed in die Jacob Zuma-korrupsiesaak.