Die DA het ‘n dringende beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om van die weermag gebruik te maak om in te gryp met die waterkrisisse in Gauteng en KwaZulu-Natal. Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng, Chris Pappas, die premierskandidaat in KwaZulu-Natal en Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, het gesê die waterkrisis het dringende ingryping nodig.
Msimanga het vandag tydens ‘n nuuskonferensie gesê daar is ongebruikte watertenkwaens van die weermag in Gauteng. Dit kos die munisipaliteite honderdduisende rande om watertenkwaens te huur. Die geld kan dan aangewend word vir ander munisipale herstelwerk. Pappas het gesê die weermag kan ook help om vullis in eThekwini op te ruim om ‘n openbare gesondheidskrisis te voorkom.