Die DA en sy regspan sit vandag koppe bymekaar oor die drakrag van ‘n mosie wat gister die DA se Maryke Davies, speaker van die Mangaung-metroraad, van haar amp gestroop het.
Opposisiepartye bevraagteken nou die geldigheid van dié omstrede besluit.
Hulle meen die waarnemende voorsitter, Pulane Mohibidu, uit ANC-geledere – asook die ANC-koukus en sekere van hulle bondgenote – het wederregtelik in stryd met regulasies opgetree.
Wat litigasie betref, het die DA se koukusleier, Johan Pretorius gesê die ANC gaan ‘n opdraande stryd hê om die geldigheid van die mosie in die hof te verdedig.
Die ANC se Lawrence Mathae, wie skynbaar nie eens sy benoeming vir die posisie aanvaar het nie, is in Davies se plek tot speaker verkies.
Talle opposisiepartylede het die vergadering verlaat omdat hulle “nie deel van ‘n onregmatige proses wou wees nie”.
Die verkiesing van ‘n nuwe speaker is ook nêrens op die agenda van gister se raadsvergadering te bespeur nie.