Die Departement van Basiese Onderwys het Donderdag landwyd sowat 900 000 vorms aan matrikulante uitgestuur oor toestemming met betrekking tot die publisering van hul eksamen-uitslae.
Verskeie kenners meen dit is onnodig, aangesien die publisering van slegs eksamennommers nie teenstrydig is met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting nie.
Daar heers ook kommer oor wie die derduisende toestemmingsvorms gaan sorteer, om seker te maak wie gee toestemming dat hul uitslae gepubliseer mag word, en wie nie.
Die argument verlede jaar was dat dit nie nodig was om matrikulante se toestemming te bekom nie, aangesien die identiteit van matrikulante nie aan hul uitslae gekoppel word nie.
Die departement het egter onderneem om vanjaar oor ‘n gepaste proses met die reguleerder ooreen te kom.