Dit waarna ‘n groep gevangenes in die Mangaung-tronk as “onnatuurlike sterftes” verwys, is volgens die departement van korrektiewe dienste, of DKD, in der waarheid ‘n enkele selfmoordgeval van etlike maande gelede.
Nog griewe sluit ‘n beweerde gebrek aan mediese dienste, en ook aantygings dat sekere gevangenes deur bewaarders gemartel word.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die DKD, sê egter hierdie soort klagtes is niks nuut nie.
Terwyl die DKD wél die klagtes ondersoek, roer hulle volgens Nxumalo dieselfde kwessies as jare van tevore aan.
Nxumalo reken die beweegrede is om die media se aandag te trek.
Die Mangaung-gevangenis in Bloemfontein is dieselfde tronk waaruit die veroordeelde moordenaar, Thabo Bester, in Mei 2022 ontsnap het.