Die Departement van Polisie sê hulle het geen ander keuse as om Zuma in hegtenis te neem nie

Die Departement van Polisie sê indien hulle nie vandag ‘n skrywe ontvang van die Kantoor van die Hoofregter nie, het hulle geen ander keuse as om die lasbrief vir die gewese president, Jacob Zuma se inhegtenisname uit te voer nie.

Dit volg nadat die minister van Polisie, Bheki Cele gister die waarnemende Hoofregter, Raymond Zondo in kennis gestel het dat Zuma se inhegtenisneming op ys geplaas word.

Volgens die departement verval hulle spertyd om Zuma in hegtenis te neem, nadat hy nie homself vrywilliglik Sondag oorgegee het nie, vanaand om middernag.

Ekonome sê intussen die gewese president Jacob Zuma se aansoek in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, dat sy inhegtenisname ter syde gestel word sal ongetwyfeld ‘n uitwerking hê op die land se ekonomie.

Intussen is uitspraak gister voorbehou en word Vrydag verwag.

Volgens ontleders hou die beleggingsgemeenskap die nuus fyn dop.

Hulle sê die saak word bestempel as ‘n toets vir Suid-Afrika se grondwet en regeringsinstansies.

Azar Jamine, die hoofekonoom van Econometrix, sê dit is egter ‘n positiewe teken vir beleggers dat die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC besluit het om die oppergesag van die reg en die onafhanklikheid van die regbank te verdedig.

Luister na potgooie hieronder