Die Departement van Toerisme sê ’n artikel wat beweer dat die minister, Lindiwe Sisulu, betrokke is by ʼn bod van een miljard rand om die Engelse sokkerspan Tottenham Hotspur te borg, is niks meer as ’n poging om haar beeld te skend nie.
Die departement het vroeër vandag ʼn verklaring uitgereik nadat Daily Maverick se artikel gister gepubliseer is.
Die artikel beweer dat SA Toerisme gereed was om ‘n ooreenkoms te onderteken om die sokkerspan te borg.
’n Bron het aan die publikasie onthul dat die voorstel uit 2017 dateer.
Sisulu se woordvoerder, Steve Motale, het die bewerings ontken en sê die artikel poog om ‘n politieke agenda te dryf eerder as om die publiek eerlik in te lig.