Die dodetal het tot 21 gestyg ná Maandag se gru-busongeluk buite Louis Trichardt in Limpopo.
Maroela Media berig die bus en ʼn geldwa was Maandagaand op die N1 in ʼn trompop botsing naby die Hendrik Verwoerd-tonnel betrokke.
Die bus het van ʼn brug af tot onder in die rivier gerol en op sy linkerkant tot stilstand gekom.
Die meeste oorledenes was onder die bus in die rivier vasgekeer.
Florence Radzilani, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, het gesê 19 mense is op die toneel dood, terwyl nog twee in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.
President Cyril Ramaphosa het intussen sy meegevoel met die families van die oorledenes betuig en die beseerdes ʼn spoedige herstel toegewens.