Die dodetal van die mynongeluk by Impala Platinum se Impala Rustenburg-myn, het tot twaalf gestyg.
Luidens ‘n Implats-verklaring het die twaalfde slagoffer, wat een van 10 pasiënte met kritieke beserings was, aan sy wonde beswyk.
Dit bring die aantal sterftes vir 2023 weens mynongelukke in die land op 53 te staan. EWN meld dit oortref die 49 myn-sterftes wat verlede jaar aangeteken is.
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, sê die Rustenburg-ongeluk is ‘n geweldige terugslag vir die regering se strewe na ongeluk-vrye mynbou in die land.
Benewens die 12 sterftes, is nog 74 mynwerkers beseer, toe die hyser wat hulle vanuit skag elf na die oppervlak moes bring, na benede geval het.