Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ‘n plaaslike kliniek in Soweto, Gauteng, vyf kinders tussen die ouderdom van 6 en 9 jaar, dood verklaar het.
News24 berig dat volgens die Gautengse Departement van Onderwys is die leerlinge oorlede nadat hulle glo vermoedelik vergiftigde kos geëet het.
Luidens Steve Mabona, ‘n woordvoerder van die departement, is twee seuns en ‘n dogtertjie van Laerskool Karabo oorlede en ‘n graad 1 seuntjie is in die hoësorgeenheid by ‘n plaaslike mediese fasiliteit nadat hy glo ook van die kos geëet het.
In ‘n afsonderlike voorval is nog twee kinders van Laerskool Kauhelo die naweek oorlede na bewerings dat hulle versnaperinge geëet het.
Die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum in Naledi, het gesê sy kan nie kommentaar lewer nie aangesien die omstandighede rondom die kinders se dood onduidelik is.