Die drie mans wat aangekla word van ‘n beweerde rassevoorval op Kersdag by die Maselspoort-vakansieoord buite Bloemfontein, het gister vir eerste keer hier saam in die landdroshof verskyn.
Volksblad berig die opspraakwekkende video van drie mans wat met twee swart seuns handgemeen raak, is op Twitter geplaas en het wyd reaksie ontlok.
Een van die drie mans is van poging tot moord aangekla en is op 29 Desember op borgtog van R20 000 vrygelaat.
’n Handjie-vol lede van die EFF was buite die hof voor die verrigtinge begin het.
Na afloop daarvan was daar heelwat meer van dié party se lede, almal in hul kenmerkende rooi T-hemde geklee.
Die saak is vir nadere ondersoek tot einde Februarie uitgestel.