Suid-Afrika nader nou bitter vinnig die tyd van die jaar wanneer die vraag na elektrisiteit weens koue weer die hoogte in skiet.
Eskom het gister fase 6-beurtkrag geïmplementeer en die prentjie vir die komende wintermaande blyk diep duister te wees.
Kenners meen dit is nog maar net die begin, en dat Suid-Afrikaners hulle sal moet staal vir beurtkrag wat gedurende die winter gereeld tot fase 6 en hoër kan wees.
Benewens die ongerief vir huishoudings, is dit natuurlik ook slegte nuus vir sakeondernemings wat reeds weens die land se geknakte ekonomie, sukkel om die geldmas op te kom.
Hewige en voortdurende beurtkrag kan lewensbedreigend wees vir mense wat van suurstof afhanklik is.
Groot kommer heers ook oor beurtkrag se volgehoue impak op hospitale en op infrastruktuur wat water na wonings en werkplekke moet pomp.