Die EFF dreig steeds om die staatsrede, wat Donderdag deur president Cyril Ramaphosa gelewer word, te ontwrig. EFF-leier, Julius Malema het gister by ‘n EFF-saamtrek in die Vrystaat gesê Ramaphosa het geen respek vir die parlement nie.
As gevolg hiervan sal die EFF blykbaar nie toelaat dat die president die nasie op nege Februarie vreedsaam toespreek nie.
Malema het onder meer na die beweerde ongerymdhede in 2020 op die president se Phala-Phala wildsplaas verwys.
Volgens Malema kan die land nie toegespreek word deur ‘n man wat die Grondwet in ‘n puttoilet gegooi het nie.
Hoewel daar regmerkies by baie van die aksiepunte sedert die vorige staatsrede gemaak kan word, is politieke ontleders dit eens dat die voortslepende kragkrisis steeds die botoon voer vir landsburgers se openbare mening van die regering en die algemene stand van sake in die land.