Die Departement van Justisie sê hy sal samesprekings voortsit met sy ampsgenote in die Verenigde Arabiese Emirate oor die aansoek dat die Gupta-broers, Atul en Rajesh, aan Suid-Afrika uitgelewer word. SABC-nuus berig dit volg op die inhegtenisneming van die Gupta-broer, Ajay en sy swaer, Anil Gupta in Dehradun in Indië.
Rosestad-nuus het vroeër berig hulle word betrek by die selfmoord van ‘n vooraanstaande sakeman, Satinder Sahni. Die regering het bevestig dat die Guptas wat in Indië vasgetrek is, nie die spesifieke broers is waarna Suid-Afrika op soek is nie, hoewel Ajay Gupta ook by staatskaping betrek word. ‘n Woordvoerder van die departement, Crispin Phiri sê hulle glo daar is steeds ‘n moontlikheid dat Atul en Rajesh Gupta aan Suid-Afrika uitgelewer kan word.