Die Glen Landboukollege, net buite Bloemfontein, is met onmiddellike effek gesluit. Dit volg op ‘n studenteprotes waartydens studente kommer oor verskeie kwessies by die kollegebestuur geopper het.
Die hoofkwessies sluit in wisselvallige water- en elektrisiteitsvoorsiening asook die instandhouding van infrastruktuur by die studentekoshuise.
In ‘n mediaverklaring sê die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling die bestuur en studente het die benadering bespreek om hierdie uitdagings aan te spreek.
As gevolg van hierdie beraadslagings is die kollege ‘n week vroeër gesluit om die bestuur in staat te stel om hierdie bekommernisse deeglik aan te spreek.
Volgens die kollege se direkteur van strategiese kommunikasie en inligtingsdienste is die besluit geneem in ‘n poging om te verseker dat die kollege ‘n produktiewe omgewing vir onderrig en leer skep.
Die studente word weer op die 20ste April op die kampus verwag.