Vir meeste Suid-Afrikaners is Amerikaanse voetbal ‘n vreemde spel met ‘n rugbybal, maar die jaarlikse Superbowl wat vroeg Maandagoggend, Suid-Afrikaanse tyd, plaasgevind het, is Amerikaners se gunsteling sport-byeenkoms. Miljoene dollars is betrokke by die spel, met een advertensie wat ‘n maatskappy $7 miljoen uit die sak kan jaag.
Die Kansas-City Chiefs, wat die Superbowl se trofee omhoog gelig het na ‘n oorwinning oor die San Francisco 49’ers, is oorskadu deur ‘n soen tussen die popstêr Taylor Swift, en die speler, Travis Kelce, van die Chiefs. Die sogenaamde Swift-effek het die NFL sedert September verlede jaar oorgeneem nadat sy en Kelce ‘n paartjie geword het.
Die BBC berig die handelsmerkwaarde van die Chiefs het sedert September verlede jaar met $331 miljoen – of nagenoeg R6 miljard – toegeneem. Verkope van Kelce se rooi Chiefs-voetbaltrui het met 400% toegeneem nadat Swift die eerste keer met so ‘n trui by ‘n NFL-wedstryd opgedaag het. Meer as 115 miljoen Amerikaners kyk jaarliks die Superbowl-sportskouspel.