Die polisie in Kenia is op soek na ‘n man wat glo skuld vir die moord op 42 vroue beken het. Die 33-jarige Collins Jumaisi het saam met 12 ander verdagtes uit ‘n polisie-aanhouding in die hoofstad Nairobi ontsnap. eNCA berig die polisie het ‘n leë sel met ‘n oopgesnyde draadrooster aangetref toe hulle gisteroggend omstreeks vyfuur ontbyt na die sel neem.
Jumaisi is verlede maand in hegtenis geneem nadat daar by ‘n stortingsterrein op die verminkte liggame van die moordslagoffers afgekom is. Jumaisi was die afgelope Vrydag in ‘n hof, toe die landdros gelas het hy moet ‘n verdere 30 dae in aanhouding bly, terwyl die polisie-ondersoek afgehandel word. Die ander twaalf verdagtes wat saam met Jumaisi ontsnap het, was in aanhouding vir beweerde oortreding van immigrasiewetgewing.