Die vyfde en laaste verdagte in die Lusikisiki-massaskietery is in hegtenis geneem. Primedia berig die Oos-Kaapse polisie het gesê die 20-jarige is op ‘n bus onderweg na Kaapstad opgespoor.
Dit volg nadat vier ander verdagtes verlede jaar Oktober by ‘n huis in Port Shepstone aangekeer is. Die groep is glo verantwoordelik vir die tragiese skietery wat die lewe van 18 familielede by twee huise in die dorpie Nyathi in September geëis het.
Volgens die Oos-kaapse polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sal die verdagte na verwagtig vandag in die Lusikisiki-landdroshof verskyn. Mawisa sê toe hulle die bus deursoek het, het hulle die man gevind wat die enigste uitstaande verdagte in die Lusikisiki-massaskietery was. Hy is onmiddellik in hegtenis geneem en sal dienooreenkomstig aangekla word.