Met net 3502 polisiereserviste in die land oor, meen die DA die getal het skerp gedaal onder die leierskap van die minister van polisie, Bheki Ceele. Die getal reserviste in die SAPD het sedert 2011/2012 met 90% afgeneem, volgens ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag van die DA se woordvoerder oor polisie, Andrew Whitfield, aan Cele. Die getal reserviste het skerp gedaal onder Cele se leierskap, het Whitfield in ‘n verklaring gesê. Terwyl misdaad steeds gemeenskappe verwoes, ondermyn Cele die geleentheid om meer stewels op die grond te kry. Reserviste het ‘n kritieke rol gespeel in die stryd teen misdaad en om die SAPD te ondersteun. Dis duidelik Cele het die reserviste-program in sy visier gehad as sy finale daad as nasionale kommissaris van die polisie tien jaar gelede, het Whitfield gesê.