Die land se finansies word toenemend onseker, het die minister van finansies, Enoch Godongwana vandag tydens ‘n konferensie van die nasionale tesourie in ‘n video wat vooraf opgeneem is, gesê. Die afgevaardigdes wat die konferensie in Johannesburg bywoon, sluit finansiele hoofde en provinsies se rekenmeesters-generaal in. Die konferensie-lede het gehoor hulle moet klem lê op hervormings in bestuur, berig Netwerk 24. Godongwana het gesê staatsfinansies is in ‘n moeilike posisie en dit neem toe. Die korttermyn-risiko’s vir die plaaslike en wêreldekonomie wat in Februarie se begroting voorspel is, het nou ‘n werklikheid geword. Hy het genoem dat ‘n laer belastinginkomste, verhoging in rentekoerse wat dit vir die staat moeilik maak om geld te leen, beurtkrag, die swak vertoning in die logistieke sektor en die blywende skade van staatskaping, die fiskale situasie selfs vererger. Dit maak dit moeilik om dringende diensleweringsprioriteite te hanteer. Hy het gesê dit is noodsaaklik om individue en ondernemings verantwoordelik te hou vir finansiele wangedrag. Streng ouditpraktyke is nou nodig om korrupsie op te spoor, het hy gesê.

error: Inhoud is beskerm !!