Die leier van die VF Plus, doktor Pieter Groenewald, het Dinsdag tydens die staatsrede-debat gesê die nalatenskap van president Cyril Ramaphosa se ses jaar van presidentskap tot nou toe, skets ʼn somber prentjie van die totale verval van die land.
Hy het gesê Ramaphosa het ook ʼn kleinserige president geword wat nie die waarheid kan hanteer nie. Groenewald het die president verder aangevat oor die hoë misdaad in die land en die inmenging van politici tydens die hofsaak van twee boere in Groblersdal wie na bewering hulle hond op ʼn vermeende aanvaller losgelaat het. Groenewald het beklemtoon dat almal in Suid-Afrika gelyk is voor die reg.
Intussen, het die sanger, Steve Hofmeyr die Vryheidsfront Plus bedank omdat die party in die debat oor die staatsrede kritiek gelewer het teen die Groblersdal saak. Hofmeyr se seun Devon het homself oorgegee en staan tereg op ‘n klag van oproerigheid in dié saak saam met ander lede van die Bittereinders.