Die grootste winkelsentrum in Bloemfontein en sentraal Suid-Afrika is te koop en gaan deur middel van ‘n geslote tenderproses van die hand gesit word het Broll Afslaers en Verkope aangekondig. BusinessTech berig die kleinhandel-sentrum wat in die vroeë jare 2000 gebou is, bied ‘n verskeidenheid winkels, vermaaklikheid, rolprent-teaters, kitskosplekke, restaurante, banke en ‘n spreekkamer vir dokters. Die uitvoerende beampte van Broll, Norman Read, het gesê die groep is reeds in gesprek met ernstige kopers. Om so ‘n sentrum vandag te bou sal meer as R3,5 miljard kos, wat ‘n groot belegging is. Die winkelsentrum het tans 125 huurders met die uniekheid dat dit in ‘n u-vorm om die Loch Logan-meer gebou is. Die sluitingsdatum vir tenders is 29 September. Winkelsentrums is erg getref deur die Covid-pandemie en het nie genoeg voete die laaste drie jaar gelok nie. Die beurtkrag-krisis en die moeilike ekonomiese omstandighede het ook kleinhandel-winkels onder druk geplaas.