Die man wat daarvan beskuldig word dat hy twee lede van die polisie se blitspatrollie doodgeskiet het, gaan vir psigiatriese evaluasie gestuur word.
Die 38-jarige verdagte, Daniel Wilfred Alberts, is skynbaar reeds voorheen in verband met ander oortredings in hegtenis geneem.
Die oorledenes, konstabel Okaetse Mandindi en sersant Kedimetse Masilo, van die blitspatrollie op Kimberley,is Dinsdag doodgeskiet toe hulle ‘n vermoedelik gesteelde bakkie, wat na Bloemfontein onder weg was, wou voorkeer.
Die bakkie, met die verdagte agter die stuurwiel, het teen ‘n hek gebots.
Hierna het hy probeer weghardloop.
Dit was toe die polisiebeamptes hom te voet agterna gesit het, dat Alberts na bewering begin skiet het.
Hy is later dieselfde dag in hegtenis geneem.
Alberts het nie gister in die landdroshof op Kimberley om borgtog aansoek gedoen nie.