Die Mangaung-metro het gister met ‘n span amptenare op onwettige studentehuise in President Paul Kruger-laan in Universitas in Bloemfontein toegeslaan.
Die gevolg van hierdie klopjag gaan stewige boetes aan eienaars van hierdie wonings beteken.
Volksblad berig die afvaardiging van die metro was skynbaar verstom oor wat in die studentehuise aangetref is.
Eienaars van die 780 onwettige studentehuise waarvan die metro bewus is, gaan boetes van miljoene rand opgelê word.
Verdere inspeksie by studentehuise in dié woongebied, wat naby die Universiteit van die Vrystaat geleë is, gaan volg.
‘n Vergadering word vir Maandag beplan, waarna daar met die wetstoepassingsproses begin sal word.
Die toestand in talle van hierdie studentehuise is haglik.
By een van die onwettige wonings is ‘n dubbelmotorhuis met tydelike houtmure in vier opgedeel om vier hokkies te skep wat elk as ‘n “kamer” teen R3 500 per maand uitverhuur word.