Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sal na verwagting na die parlement ontbied word om die mislukte uitleweringspoging van die Gupta-broers te verduidelik.
Lamola het onlangs aangekondig dat die Verenigde Arabiese Emirate weier om Atul en Rajesh Gupta aan Suid-Afrika uit te lewer.
Die twee is verlede jaar in Doebai in hegtenis geneem in verband met beweerde korrupsie wat met staatskaping in Suid-Afrika verband hou.
Daar het ook na bewering R228 miljoen vanaf die Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat, na die Guptas se geldkoffers gevloei.
Opposisiepartye wil nou hê Lamola moet verduidelik waarom die regering se pogings om die Guptas te laat uitlewer, misluk het.