Die moordsyfer in Suid-Afrika het sy hoogste punt in 20 jaar bereik. Dit is volgens ‘n verslag wat vroeër die week deur die Instituut vir Sekerheidstudies vrygestel is. Volgens die verslag staan die moordsyfer die afgelope jaar op 45 per elke 100-duisend mense. Vier provinsies, KwaZulu-Natal, Gauteng, Wes-Kaap en Oos-Kaap was verantwoordelik vir 83 persent van moorde wat regoor die land aangeteken is. Die studie deur die Instituut vir Sekerheidstudies onderstreep die versuim van die polisie, onder leiding van die minister van Polisie, Bheki Cele, om sy grondwetlike mandaat na te kom om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek.