Die wrak van die Volkswagen waarin drie polisiekonstabels gereis het, is Donderdag kort ná middagete uit die Hennopsrivier in Centurion uitgehaal.
Maroela Media berig die polisie het ook ‘n wit handsak en die motor diensboek gevind. Die motor is naby die N1-snelweg-noord uit die rivier gehaal, naby die plek waar die konstabels se liggame vroeër die week gevind is.
Die soektog na die motor het vroeg Donderdag hervat nadat daar Woensdag onverpoos, maar sonder enige sukses daarna gesoek is.
Al wat die reddingspan teen laat Woensdagaand kon kry, was wrakstukke van die motor. Mikrokolletjies van Data Dot op dié wrakstukke het bevestig dat dit afkomstig was van die konstabels se Volkswagen.
Intussen berig Newskoop die Vrystaatse polisievakbond, Popcru, het hul meegevoel betuig met die afsterwe van die drie polisiekonstabels. Die konstabels het verlede week vermis geraak terwyl hulle van Bloemfontein na Limpopo gereis het.