Die name van die ses meisies van die Hoërskool Riebeeckstad wat Dinsdag in ‘n busongeluk tussen Ventersburg en Senekal dood is, is bekendgemaak. Hulle is Oagile Gailele, Lerato Keketsi, Busisiwe Makansela, Tlotlisang Mokotjo, Katleho Semelo, almal 13-jaar oud, en die 14-jarige Relebohile Nteo.

Die Vrystaatse polisie het die dogters se name gisteraand uitgereik. Die polisiewoordvoerder, brig Motantsi Makhele, het gesê die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag en dat dit steeds te vroeg is om enigeen vir die ongeluk verantwoordelik te hou. Die bus se een agterwiel het glo losgekom en die ongeluk veroorsaak. Intussen, het ouers van die leerlinge wat op die uitstappie was, die skool blameer vir ‘n gebrek aan kommunikasie gedurende die tragedie.

Netwerk 24 berig daar is selfs ouers wat in hul motors gespring het om na hulle kinders te gaan soek en verskillende roetes gery het omdat hulle geen inligting by die skool gekry het nie. Betsi Schoeman, die skoolhoof, het gesê sy het opdrag gekry dat alle navrae deur die woordvoerder van die onderwysdepartement, Howard Ndaba, hanteer sal word.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×