Die Nasionale Kernreguleerder het nog ‘n ronde openbare verhore geskeduleer vir die verlenging van die Koeberg kragstasie se leeftyd. Die verhore is geskeduleer ná ‘n uitroep van burgerlike organisasies oor die gebrek aan inligting wat met die publiek gedeel is voor die vorige openbare konsultasieproses. Die organisasies het hul ontevredenheid met die algehele bestuur en openbare deelnameproses uitgespreek.Die volgende ronde van die openbare deelnameproses het Maandag begin. Die uitvoerende direkteur by die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut, Francesca de Gasparis, sê daar is veiligheidsmaatreëls wat getref moet word voordat die lewe van Koeberg verleng word.
