Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola het opdrag aan alle provinsiale kommissarisse gegee om enige opdragte oor die taal van dienslewering wat nie in lyn met die nasionale beleid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is nie, terug te trek. Dit volg nadat die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, vroeër opdrag gegee het dat verklarings en amptelike dokumentasie in dié provinsie in die vervolg slegs in Engels moet wees. Volgens die nasionale taalbeleid word Afrikaans, Xhosa en Engels in die Wes-Kaap gebruik, en moet die publiek ook so ver as moontlik in enige ander taal bedien word.
