Die opdrag aan polisielede in die Noord-Kaap om verklarings slegs in Engels af te neem, is teruggetrek.

Die Noord-Kaapse streekskoerant DFA berig dat die kontroversie ontstaan het nadat ‘n brief van Majoor-Generaal Luntu Ngubelanga aan die lig gekom het, waarin beveel is dat alle SAPS-dokumentasie in die provinsie, met onmiddellike effek, slegs in Engels gedoen moet word.

Volgens Netwerk24 het die Kaapse Forum, ’n organisasie wat fokus op die bevordering van taal- en kultuurbewaring, in sy besit ’n dokument waarin die provinsiale kommissaris die omstrede opdrag ongedaan gemaak het.

Kaapse Forum-hoof Bernard Pieters sê die oorspronklike opdrag was heeltemal teenstrydig met die Grondwet, wat bepaal dat provinsiale regerings ’n minimum van twee amptelike tale moet gebruik.

Polisiewoordvoerder Mashay Gamieldan sê die omstrede direktief is herroep en vervang met ’n nuwe een wat die voorkeur-werkstaal van die polisie aanspreek. 

error: Inhoud is beskerm !!