Die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering is vandag deur die parlement se energiekomitee bespreek maar die uitgerekte proses beteken dat die wet eers volgende jaar van krag word. Die proses behels dat openbare sittings in al die provinsies gedurende September tot Desember oor die wetsontwerp gehou gaan word. Daarna sal die portefeuljekomitee oor energie deur die wetgewing werk wat beteken dit sal moontlik eers volgende jaar goedgekeur word. Die langverwagte nuwe wetgewing sal die weg baan vir ‘n onafhanklike netwerkoperateur en die skep van ‘n oop, medegingende kragmark teenoor die huidige mark waarin Eskom die monopolie het. Die nuwe wet sal ook aan die Nasionale Energiereguleerder, of Nersa, meer mag gee om kragtariewe vas te stel. Nersa sal ook binne korter tydperke kraglisensies moet verwerk.