Die oënskynlik onstuitbare verval van plattelandse dorpe in die Vrystaat druis talle male teen basiese menseregte in, en het tot gevolg dat hierdie dorpies al vinniger ontvolk.
Van die faktore wat dorpe onbewoonbaar laat, is krane sonder water en / of besoedelde water, asook swak of geen dienslewering.
Dorpe steier verder onder meer weens waterinfrastruktuur wat nie onderhou word nie, en beurtkrag.
Inwoners van Jagersfontein ervaar boonop probleme met behuising in die nasleep van verlede jaar se slikdamramp, toe huise hier deur slik verswelg is.
Sommige inwoners van Jagersfontein se krane het reeds so lank as 10 jaar gelede opgedroog.
Mense op die dorp sê hulle kan nie meer so leef nie.
Die DA se leier in die Vrystaat, doktor Roy Jankiesohn, het gesê hy besoek vandag Jagersfontein om sélf te gaan kyk hoe die situasie nou daar lyk.