Die veroordeelde dwelmhandelaar, Glenn Agliotti, wat glo die voormalige polisie-kommissaris, Jackie Selebi omgekoop het, is dood. Lt. Kol. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie in Gauteng, het aan Netwerk 24 bevestig ‘n dossier vir ‘n geregtelike doodsondersoek is by ‘n Sandtonse polisiekantoor geopen. Hy is glo Vrydagaand in ‘n hospitaal in Johannesburg oorlede. Masondo het gesê die oorsaak van sy dood sal in die nadoodse ondersoek vasgestel word. Agliotti het in 2006 skuldig gepleit op ‘n klag van dwelmsmokkelary waarvoor hy ‘n opgeskorte vonnis gekry het. Hy is ook op ‘n klag van moord op die mynmagnaat, Brett Kebble, vrygespreek. Hy het ‘n sleutelrol gespeel in die vervolging van Selebi, wat skuldig bevind is dat hy omkoopgeld van Agliotti ontvang het.