Die oorsaak van die brand waarin 19 voertuie by ‘n lugskou in Bethlehem in die Vrystaat uitgebrand het, word ondersoek.
Sover bekend het een persoon brandwonde opgedoen in Sondag se wegholbrand wat deur sterk wind aangeblaas is.
Netwerk24 berig by monde van Tshediso Maitse, woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit, het die brand ‘n naas perfekte geleentheid gekelder. Dit is die eerste keer in vier jaar dat ‘n lugskou hier aangebied word.
Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, en Charl Kalamer, die party se distriksraadslid het die toneel naby die vliegveld besoek. Luidens ‘n verklaring sê Van Niekerk dat gebrekkige rampbestuur en ‘n tekort aan brandbestrydingstoerusting daartoe bygedra het dat die voertuie reeds tot as verbrand was teen die tyd dat die brandweer opgedaag het.
Die skade sou volgens hom beperk kon word indien die munisipaliteit effektiewe maatreëls in plek gehad het, veral gegewe die groot aantal mense wat by die lugskou teenwoordig was.