Die oorsaak van die verwoestende Tafelberg-brand behoort binne twee weke bekend te wees

‘n Onafhanklike forensiese ondersoeker is deur Sanparke aangestel om die oorsaak van die verwoestende brand vandeesweek teen die hange van Tafelberg te ondersoek.

Netwerk 24 berig dat ‘n gesamentlike verklaring hieroor deur Sanparke en die Kaapstad-metro uitgereik is.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, sal die metro nou met Sanparke en die polisie saamwerk.

Smith het ook ‘n beroep op die publiek gedoen, om midde talle vrae en bespiegelings oor die oorsaak van die brand, die ondersoek sy gang te laat gaan.

Ses geboue van die Universiteit van Kaapstad is tydens die brand beskadig.

Sowat vierduisend studente moes hul blyplekke ontruim.

Die meeste studente sal vanaf vandag kan terugkeer.

Intussen het Gift of the Givers laat blyk dat die skenkings wat tot op hede ontvang is, voldoende is om die studente vir die volgende week van drie maaltye daagliks te voorsien.

Luister na potgooie hieronder