Die Vrystaatse regering wil die streek se ekonomie bevorder met ’n tekstielvervaardigingsentrum in die Oos-Vrystaat.
Die Vrystaatse LUR vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Toto Moses Ketso Makume, sal na verwagting Donderdag ’n Tekstielvervaardigingsentrum in Phuthaditjhaba, Qwaqwa, bekendstel.
Central News berig Makume se departement dryf die inisiatief aan om beleggings te lok, tegnologiese innovasie te bevorder en werksgeleenthede te skep.
Volgens departementele woordvoerder Mojalefa Mphapang sal die sentrum nywerhede soos sement, staal, chemikalieë en tekstiele bymekaarbring.
Besighede sal hulpbronne soos Inligting- en Kommunikasietegnologie-infrastruktuur, water en energie gebruik deel teen laer huurkoste.
Die sentrum ondersteun ook die Vrystaatse Groei- en Ontwikkelingstrategie, wat beoog om vervaardiging se ekonomiese bydrae teen 2030 te verdubbel.
Die projek sluit aan by pogings om township-ekonomieë te versterk en werkskepping in die provinsie te bevorder.