Die parlement gaan sterker word in sy toesighoudende rol met die instelling van ’n portefeuljekomitee om toesig te hou oor die Presidensie.
SABC News berig die Nasionale Vergadering se Reëls-komitee het aangekondig dat die komitee ingestel sal word, soos aanbeveel deur die Zondo-kommissie.
Die meeste partye in die parlement het die aankondiging verwelkom.
Die Uitvoerende Sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Lawson Naidoo, sê dat, as die komitee op openbare belang fokus, daar min kans sal wees dat dit teen die President gebruik sal word.
Die komitee sal proporsioneel saamgestel word en uiteindelik gaan dit oor verantwoording in die openbare belang.
Naidoo sê politiek speel altyd ’n rol, so dit sal hier ook die geval wees, maar parlement moet alles in die openbare belang doen.