Die polisie het bevestig dat daar wél vroeg Vrydagoggend petrolbomme na die Gonyane Primary School in Bloemfontein geslinger is.
Sowat R300 000 se skade is aangerig toe die skoolsaal, met onderrigmateriaal daarin, in die brand verwoes is.
‘n Petrolbom is ook na die administrasiegebou gegooi.
ʼn Polisie-taakspan het kort na die voorval vyf verdagtes, waarvan twee buitelanders is, in hegtenis geneem. Gesteelde skryfbehoeftes is ook teruggevind.
Die aanval is geloods terwyl president Cyril Ramaphosa vir die ANC se 111de verjaarsdagvieringe in Bloemfontein was.
Dit is nie bekend of die aanval op die skool verband hou met ‘n vroeëre dreigement deur gegriefde inwoners om die stad ten tyde van die ANC se verrigtinge tot stilstand te ruk nie.
Die verdagtes verskyn vandag in die hof.
Die ondersoek duur voort en nog verdagtes sal na verwagting aangekeer word.