Die minister van polisie, Bheki Cele, het in reaksie op ‘n parlementê vraag van die DA onthul dat die polisie in die Noord-Kaap meer as ‘n uur neem om op ‘n misdaad te reageer. Okkie Terblanche, DA-LP en woordvoerder oor polisie, het in antwoord hierop gesê misdadigers het al die tyd in die wêreld om misdaad te pleeg sonder enige vrees vir polisie-ingryping. In die Vrystaat is die reaksietyd bykans 30 minute.
Die bevelvoerder van die blitspatrollie in Bloemfontein, Lt Kol Chris van der Merwe, het in reaksie op media navrae gesê die eenheid klassifiseer klagtes in drie kategorieë om so gou moontlik by ‘n misdaadtoneel uit te kom. Ernstige klagtes wat eerste prioriteit geniet, is byvoorbeeld ‘n transito rooftog. Huisbraak of winkeldiefstal is die blitspatrollie se tweede prioriteit en laastens wanneer mense ‘n verdagte persoon of pakkie opmerk. Van der Merwe het die publiek gevra om geduldig te wees en ook die naaste polisiestasie te skakel.