Die polisie in die Vrystaat is gereed vir die verkiesing en sal strategies by verskeie stempunte in die provinsie ontplooi word. Die polisie se woordvoerder in die Vrystaat, Brig Sam Makhele, sê ‘n gesamentlike provinsiale operasionele en intelligensie struktuur, of ProvJoints, is in gereedheid gebring om die integriteit van die verkiesing volgende week te verseker.
Makhele sê ‘n veilige omgewing sal ook geskep word vir almal wat stem asook party-kandidate en verkiesingsbeamptes. ProvJoints het reeds ‘n plan om enige voorval die hoof te bied. Makhele sê die polisie sal deurentyd ontplooi word om inligting in te samel en met die gemeenskappe te skakel. Die polisiebeamptes wat ontplooi word, het spesiale opleiding vir die verkiesingstydperk ontvang.