Die polisie in die Noord-Vrystaat het drie onwettige immigrante buite Harrismith vasgetrek wat in besit was van ‘n onwettige jaggeweer en ammunisie. Die woordvoerder van die polisie in die Noord-Vrystaat, Adjudant-offisier, Mmako Mophiring, het gesê die Welkomse eenheid vir openbare polisiëring is ingeroep nadat die polisie inligting ontvang het van die drie gewapende verdagtes wat skaapwagters van hul vee beroof in die omgewing van die Monontsa-gemeenskap. Die polisie het een verdagte in Makgolokweng in hegtenis geneem wat in besit van die ammunisie was en die twee ander twee verdagtes met die jaggeweer op ‘n plaas buite Harrismith. Die reeksnommer van die geweer was afgeskuur. Die verdagtes sal vandag in die hof verskyn vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.