Die polisie in Bloemfontein het Maandag ‘n deurbraak gemaak met die ondersoek na die diefstalle van duur Toyota-voertuie toe ‘n verdagte gister aangekeer is nadat ‘n Toyota Land Cruiser by Preller Plein gesteel is. RosestadFM het vroeër  berig dat meer as 22 luukse Toyota SUV voertuie en bakkies deur sindikate in die twee voorafgaande maande gesteel is. Die woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, Kaptein Loraine Earle, het in ‘n verklaring gesê lede van die polisie se blitspatrollie het die voertuig raakgesien nadat dit as gesteel aangegee is. Die polisie het die voertuig agtervolg en op die R702 het die voertuig probeer wegjaag. Earle het gesê die voertuig is tot in ‘n landelike gebied agtervolg. Die verdagte het te voet gevlug maar is later in ‘n huis vasgekeer. Hy is gearresteer vir motordiefstal asook die besit van ‘n sein-blok-toestel. Die 39-jarige verdagte sal die week in die hof in Bloemfontein verskyn. 

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×