Die polisie in Bainsvlei ondervind tans ‘n toename in die aantal kuber-bedrog klagtes wat aangemeld word. Kaptein Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het aan Rosestad Nuus gesê die misdadigers kies veral ouer mense as hul slagoffers waartydens valse koop-en verkoop transaksies deur die internet-bank-toep of aanlyn bank-oorbetalings gedoen word. Earle het gesê mense word toenemend bedrieg wanneer hulle produkte op sosiale media wil koop of verkoop. Die produk word nie gelewer wanneer die geld oorbetaal is nie of die verkoper kry nie sy geld nie. Die skurke is so slim dat hulle in meeste gevalle nie ‘n bankrekeningnommer gebruik nie. Die polisie het die publiek ook gewaarsku om nooit ‘n bankkaart se OTP wagwoord telefonies aan enigiemand te gee nie, ook nie as die inbeller sê die oproep is van ‘n bank nie. Die kanse vir bedrog is veral groter wanneer die produk of diens wat geadverteer word, te goed is om waar te wees.
